Valiant Swart – Dié troebadoer is op pad Lush toe!

Valiant Swart - Lush 2017

Alhoewel hy homself nie noodwendig as ’n ikoon of legende sien nie, is Valiant Swart vir seker ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat respek afdwing. Hy is al etlike jare ’n prominente naam in die bedryf en wen nuwe aanhangers oor met sy strelende stem en goeie lirieke. “Dis strelend vir die ego om ’n legend of ikoon genoem te word,” sê Valiant. “Maar ’n mens moet dit nie kop toe vat nie. Eintlik is jy maar net nog ’n ou met ’n klomp liedjies en ’n kitaar wat ’n bestaan probeer maak.”

Valiant is eersdaags te sien by die Lush Fees in Clarens, wat jaarliks oor Paasnaweek plaasvind. Feeste is altyd groot pret, maar ek was al by so baie. Die kamp-ding is nie meer vir my so lekker nie. Ek is ‘past tents’,” spot Valiant. Hy verduidelik entoesiasties dat hy ’n gerieflike hotelkamer in sy geestesoog sien wanneer hy die woord “lush” hoor. “Wat uitkyk oor ’n lowerryke tuin, tortelduiwe in die bome… en ’n gratis mini-bar. Jacuzzi opsioneel.”

Lush poog om ’n rustige kuiernaweek vir vriende en families te wees – en natuurlik van die beste kunstenaars in die land byeen te bring. Behalwe vir Valiant, kan jy uitsien om Karen Zoid, Francois van Coke en Koos Kombuis te sien optree gedurende die feesnaweek.
Valiant Swart - Nagrit

Valiant se nuutste album, Nagrit, het baie goeie kommentaar van resensente en musiekaanhangers gekry, en hy beskou dit as sy beste een tot nou. “Ek het baie lank aan die liedjies gewerk voor dit ’n samehangende geheel gevorm het en ons dit studio toe kon vat. Elke liedjie is soos ’n kortfilm, geset op die musiek waarvan ek hou – country-soul en blues.” Valiant erken dat hy ewe veel van al die snitte op die album hou, maar dat Dubbel en Dwars, Vrydag in die Vrystaat en Bitter Wind die lekkerstes is om lewendig voor ’n gehoor te speel.

Vir aanhangers wat reeds Nagrit sat geluister het, is daar moontlik goeie nuus. “Ek het toevallig onlangs gemerk dat ek reeds weer ’n hele paar nuwe liedjies het, so miskien moet ek maar eersdaags my planne agtermekaar kry en studiotyd bespreek,” vertel Valiant. Alhoewel hy altyd soos die kalmte vanself lyk en so stil-stil sy ding in die bedryf doen, sou Valiant sy lewe en menswees nie noodwendig as rustig beskryf nie.

 “Soos ’n mens ouer raak, raak die lewe al hoe meer gekompliseerd. Gelukkig het ek die musiek om my stresvlakke mee te temper.”

Lush - Valiant Swart

Valiant tree Vrydag 14 April om 18:00 op die Owl verhoog op. Feesgangers kan uitsien na ’n solo akoestiese optrede van hom, met net sy kitaar, mondfluitjie, liedjies en stories. En reg na Valiant tree een van sý persoonlike gunstelinge op. “Ek en Albert Frost speel al baie jare saam, en ek is steeds ’n groot ‘fan’. Sy set is altyd iets om na uit te sien. ’n Fantastiese kitaarspeler en performer.”

Valiant groet ons met drie dinge wat hy dink jy nie sonder kan gaan fees nie: “‘n Ekstra sonbril, ’n ‘beanie’ en ’n waterbottel”. Hierdie man weet van fees, so ek dink ons kan maar sy woord vertrou.


Is jou tas al gepak vir Lush Festival hierdie paasnaweek (13-16 April)? Gereed om Valiant Swart in lewende lywe te sien? Kry jou Lush kaartjies hier – of skryf in vir ons kompetisie om ‘n dubbelkaartjie te wen!