The watching of The Making Of the Making Of (MOMO)

MOMO

Sonder ‘n leser is ‘n skrywer mos onvolkome, of hoe? En wat is ‘n fliek sonder ‘n Making-of? En wat is ‘n Making-of dokumentêr sonder karaktergroei en selfstudie en piromanie? Ek het onlangs MOMO (oftewel The Making of The Making of) gekyk – ‘n kortfilm deur kletsrymer Jaco van der Merwe. En dis nie ‘n regte dokumentêr nie, maar eerder ‘n storie oor PJ en Arra – twee kamera-verslaafde jongmense wat graag wil movies maak… maar tevrede sal wees met die geleentheid om bietjie “behind the scenes stuff” op ‘n filmstel af te neem.

Arra en PJ (vertolk deur Adriaan de la Rey en PJ Kotze – raai maar self wie speel watter rol) ontmoet ‘n oulike meisie by ‘n huispartytjie en word die geleentheid aangebied om op haar wetenskapsfiksie-filmstel te kom video skiet en ‘n “making of” aanmekaar te slaan. Maar wanneer hulle daar opdaag is daar reeds ‘n nors agter-die-skerms span, so hulle besluit om ‘n “Making of the Making of” te doen – ‘n eerste van sy soort.

MOMO

Dus word daar dinge afgeneem wat nie gewoonlik in agter-die-skerms programme kom nie: Rusie tussen die fliek se regisseur (Kara du Toit) en vervaardiger (Pierre van Pletzen), onderhoude oor onderhoudvoering, en ‘n paar kamerajaloesie-voorvalle. Want Arra en PJ hou baie van kameras – amper soveel as wat hulle van brandstigting en meisies hou. En hoewel die plotsinopsis bietjie deurmekaar en oordryf klink, is hierdie komedie-resep ‘n sukses.

MOMO begin met ‘n found footage genre-cliché: ‘n verwerking van die “hoekom het jy heeltyd ‘n kamera in jou hande?”-toneel, wat subtiel genoeg hamteer word dat dit nie na ‘n lepelvoer-verskoning klink nie. Die karakters is allemanne soos dié wat jy al by ‘n huispartytjie ontmoet het, maar só afneem-behep dat die kamerastyl natuurlik voel. Die akteurs se spel is ook verbasend goed, aangesien mens aanneem dis regtig kamera-mal filmstudente eerder as regte akteurs. Of is dit akteurs wat ‘n kamera kan hanteer? Jy weet nie, en dis waarom dit werk.

MOMO

En hoewel die lokprente mens dalk kan laat wonder of MOMO ‘n gesofistikeerde, akademiese, breek-die-reëls kunsfilm vol teenstellings en die praktiese toepassing van filmteorie is, word die storie redelik tradisioneel aangebied. Die fliek is gemaklik genoeg in sy eie skoene dat hy die handheldfound footage styl met selfvertroue gebruik, gewone mense met alledaagse taalgebruik as hoofkarakters het, en ‘n redelike eenvoudige, doelbewuste storie vertel oor mense wat eenvoudige doelwitte (soos kameras en meisies) wil bereik.

Maar onder die oppervlak funksioneer MOMO op ekstra vlakke: Die film self, nes die karakters, groei en verander, pas introspeksie toe, en word uiteindelik beter weergawes van hulself deur hul doelwitte op onkonvensionele en onbeplande maniere te bereik. Dis the little movie that could, sommer binne-in die fliekwêreld en heeltemal afgesien van eksterne sukses of gehoorreaksies.

Vir ‘n found footage-styl fliek is alles ook op tegniese vlak verbasend goed, en word die genre nooit as verskoning gebruik om werk af te skeep nie. My enigste kritiek is dat die plasing en beweging van akteurs in een skree-op-mekaar strytoneel bietjie ongemaklik gevoel het – maar in die hande van gesoute akteurs, en ‘n kamera wat vinnig wegbeweeg, is dit ‘n kleinigheid. Veral die toneelspel van Bibi Slippers en Peach van Pletzen (twee nie-akteurs wat akteurs in hul agter-die-skerms gewaad vertolk), is baie vermaaklik en pret om na te kyk.

As ‘n debuut kortfilm wys MOMO uitstekende gebruik van nie-tradisionele tegnieke, geloofwaardige karakters, en doeltreffende komedie. Ek hou die span in afwagting dop!


MOMO (the making of the making of) is ‘n kortfilm deur Jaco van der Merwe, met Adriaan de la Rey, PJ Kotze, Pierre van Pletzen, Kara du Toit, Bibi Slippers, Peach van Pletzen en Jaen Kleynhans. Dit is ongelukkig nie in ‘n teater naby jou nie, maar subscribe tot Topjoller films op YouTube om Jaco se toekomstige filmwerk dop te hou.