As daar nou een soort fliek is wat omtrent sinoniem is met ‘n koekiedrukker, is dit Afrikaanse romantiese komedies. Ek voel of ek al hoop verloor het in die genre, aangesien die glansende vonkelwyn-vertolking van die liefde keer-op-keer dieselfde is. Gelukkig het Dis Koue Kos, Skat onlangs uitgestaan as ‘n goeie Afrikaanse komedie wat fokus op karakters wat in hul middeljare oor begin. En nou is daar Sy Klink Soos Lente – met alleen-wyndrinkers en mechanics wat ‘n band begin – ‘n fliek gemik op… my.
Die grootste ding wat Sy Klink Soos Lente laat uitstaan is sy natuurlike dialoog. Die karakters in hierdie fliek klink nie soos die res nie, maar hul dialoog – gevloekery en al – klink soos werklike jongmense. En gepraat van regte jongmense: Die hoofkarakters het probleme waarvoor ‘n kyker in sy laat-twintigs (dis nou ek), baie begrip het: Ben (Stiaan Smith) is ‘n werktuigkundige by ‘n winkel wat lyk of hulle in ou Europese karre spesialiseer, maar is ontevrede met sy loopbaanvooruitsigte, bietjie skaam oor sy werk, en het al feitlik op liefde opgegee. Linda (vertolk deur Amalia Uys), voel asof almal rondom haar deesdae trou, maar het al oorgenoeg leuens en hartseer beleef op haar soeke na haar eie liefde. En wanneer hulle in ‘n kroeg ontmoet, flankeer Ben versigtig, maar spog onverskillig dat hy in ‘n band musiek maak vir ‘n lewe. Hy het nooit gedink die verhouding sal verder gaan as daai aand nie, maar toe begin Linda met hom gesels oor Facebook en Whatsapp, en hy raak verlief. Om dinge moeiliker te maak is Linda se pa ook Ben se baas.
Maar om die realisme teen te werk, gaan díé twee op die soort romantiese, oorspronklike dates wat net in flieks gebeur – soos die een waar Linda in haar huis vasgekeer is, en hulle dan wyn en pizza so deur die veiligheidshek deel. Die Johannesburg waarin hierdie fliek afspeel is byvoorbeeld ook baie kleiner as die een wat ek ken: Almal ken mekaar en loop mekaar heeltyd raak, en dit lyk of die Bohemian in Westdene die middelpunt van die dorp is. Maar aan die ander kant speel die fliek ook nie af in daai bekende, vreemde wêreld waar almal suiwer Afrikaans praat nie. Dus sit Sy Klink Soos Lente op ‘n redelike unieke plek in die realisme-teenoor-fantastiewêreld spektrum: Die karakters voel werklik, maar hul omstandighede is bietjie vergroot en ekstra-romanties.
En die kombinasie van daai aspekte beteken dat Sy Klink Soos Lente glad nie die deursnit Afrikaanse romantiese komedie is nie. Stiaan Smith (ook die draaiboekskrywer) het duidelik al flieks soos Annie Hall gekyk. Mens kan nie miskyk dat Linda se uitrustings dikwels baie aan Diane Keaton se karakter uit die laasgenoemde, onkonvensionele 1977-fliek se klere herinner nie. Maar so sterk, onafhanklik en realisties as wat Linda probeer wees, word die fliek definitief hoofsaaklik gesien uit die maklike hoofkarakter se oogpunt. Dit maak dat Linda dikwels vreemd optree en haar motiewe onverstaanbaar is. Sy word ook as die prys aan die einde van die stryd uitgebeeld, en alhoewel sy in een toneel belowe dat sy “maatjies” het, sien ons haar net ooit regtig sosialiseer met haar pa.
Selfs op ‘n tegniese vlak neem die filmmakers kanse en bly nie altyd by die verwagte norm nie. Daar is vreemde montage-sekwense wat terselfdetyd kyk na die progressie oor ‘n paar dae, maar ook heen-en-terug sny met die gebeure van ‘n enkele aand. Dis effens buitengewoon vir ‘n deursnit, maklik-verteerbare film soos hierdie, maar dis tog nie verwarrend of moeilik nie.
Op die oog af is Sy Klink Soos Lente nie net nóg een van daai koekiedrukker-komedies waarmee Afrikaanse kykers oorweldig word nie. Dis ‘n vars fliek wat definitief die slegte stereotipes van onlangse Afrikaanse romantiese komedies vermy, en al is dit nie volmaak nie, ten minste waag om nuwe dinge te probeer en die gehoor nie te lepelvoer nie. Ek sal die fliek veral aanbeveel vir jong Afrikaners – selfs diegene wat moeg is om aanhoudend dieselfde plaaslike fliek te gaan kyk wat net ‘n nuwe baadjie aanhet.
Sy Klink Soos Lente is in fliekteaters vanaf 30 September.
Ek het lanklaas so gelukkig uit ‘n Afrikaanse fliek gestap. Die byspelers, draaiboek, musiek, die band, 2 hoofspelers en humor ‘n perfekte resep. Daar kan miskien minder geffffff gewees het. Die klank het bietjie gepla..Woorde is ietwat binnesmonds gemompel teen die einde van ‘n sin .. soort van te vinnig gepraat en nue due laaste woorde in ‘n sin mooi gehoor nie. Dit kan.die teater in Bloem wees..Maar dit net terloops. Ek gaan dit weer sien!