Loki Rothman is meestal bekend vir sy virtuoso kitaarspel, maar is ook ‘n sanger en liedjieskrywer in eie reg. Hy het die Top 6 van South Africa’s Got Talent gehaal, en al saam met Jack Parow, Die Heuwels Fantasties, en nou ook Laurika Rauch opgetree en opgeneem. Eersdaags sal hy in Johannsburg te sien wees by Liefde By Die Dam 2017 op 6 Augustus, waar Riana Nel, Jo Black, Majozi, Die Heuwels Fantasties, JR, Tresor, Francois van Coke en Laurika Rauch ook sal optree. Ons het vir Loki ‘n paar vrae gevra om ons opwinding te stook…
Jy was suksesvol op South Africa’s Got Talent, en het die Top 6 bereik. Sou jy sê daai sukses was instrumenteel (excuse the pun) tot die vergroting van jou loopbaan as musikant?
Ja definitief. Dit het my baie werk gebied en ek kon stadig maar seker shows speel en fokus op my loopbaan. Dit was toe ek matriek was, so dit het perfek uitgewerk dat ek in my eerste jaar toe kan begin optree en die besigheid leer ken.
Is dit moeilik om ‘n balans te vind tussen ‘n tegniese bemeestering van jou instrument, en aan ‘n breër gehoor te raak deur middel van popmusiek?
Ja dit is verseker. Ek werk tans aan nuwe goed wat ek hierdie twee wêrelde nader aan mekaar bring.
Jy het al opgetree saam met Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en Laurika Rauch. Kan ons uitsien na collaborations of gas-verskynings by Liefde By Die Dam 2017?
Definitief. Ek en Laurika sal saam op die verhoog verskyn. Ek het baie van haar treffers verwerk vir my “one man band” spel op die kitaar. Daar sal definitief ook ander samewerkings ook wees op die dag waarna mense kan uitsien.
Wat is vir jou die beste deel van geleenthede soos Liefde By Die Dam? Is daar enige iets waarna mense spesifiek kan uitsien?
Dit is lekker om die verhoog te kan deel met sulke talentvolle kunstenaars en ook met hulle samewerkings te kan uitvoer. Dit is min dat mens geleentheid kry om almal op dieselfde plek te wees dieselfde tyd.
Wat is volgende vir Loki Rothman? Is daar nog album/uitreiking/toer planne aan die broei?
Ek is besig om te werk aan ‘n EP wat ek wil vrystel voor einde die jaar wat ek graag sal wil toer. Ek voel ek het my klank gekry wat ek voor gesoek het. Ek is middle Aug in die ateljee met dit. Sien baie uit dat almal die nuwe liedjies en klank hoor.
Loki Rothman is op 6 Augustus te sien by Liefde By Die Dam 2017 in Johannesburg. Kry jou kaartjies hier!