Akkedis bestaan uit die bebaarde langhaar tweelingbroers van Somerset-Wes, Rudolph en Arthur Dennis, met AJ Graham as derde lid. Hulle musiek het ‘n element van klassieke eenvoud, ten spyte van hulle voorkoms. Dis ‘n soort pseudo-folk blues-rock met ‘n groot fokus op lirieke, en sterk Afrika- invloede. Hulle sing hoofsaaklik in Afrikaans, met bietjie Engels en ander tale bygevoeg vir afwisseling. Portugees kom spesifiek op een liedjie op hulle nuutste album, Onder Ou Tafelberg, voor: Nos Amamos Mozambique is ‘n ode aan Mosambiek en Ponta Malongane, en daarmee saam waarskynlik STRAB, die jaarlikse musiekfees wat dáár plaasvind.
Onder Ou Tafelberg voel so bietjie soos ‘n terugblik op ‘n lang musiekloopbaan. Veral die openingsnit, Twintig Jaar Anderkant die Berg, is ‘n opgedateerde weergawe van ‘n ou Akkedis-song: hierdie keer is dit aangepas om hul 20 jaar se bestaan, en 20 jaar se avonture, te reflekteer. En dan is daar ook Akkedis se verwerking van ‘n ou bekende (en baie populêre) Valiant Swart-liedjie, Die Donker Kom Jou Haal. Maar dis nie waar die kyk na die verlede eindig nie. Ode aan Ouma Grietjie Adams (“die Griekwa-legende wat bekend was vir Lekker Ou Jan,” verduidelik Akkedis), Musiek van Hanover Straat, en Bomskok Son erken en verwys almal na die verlede.
Aan die ander kant is Crazy Elektriese Engel iets nuuts en anders – blykbaar Akkedis se eerste liefdeslied. En Musiek van Hanover Straat is ‘n vrolike huldeblyk aan die mense (en musiek) van Distrik 6, wat onthou, maar ‘n effense meer kontemporêre uitkyk het.
By snit 7 (van 11), begin die album se vertellerstem ook ouer klink. Honky Tonk Swerwer beskryf ‘n karakter wat slegs leef vir die hede, en Versigtig Lewe, Waar’s die Revolusie en Elkeen vir Homself klink almal na volwassenes wat die jeug bestudeer en soms kritiseer. Of is hulle juis besig om daardie soort kritiek te kritiseer?
“Jy moet versigtig lewe my kind, dan kom jy veilig aan by die dood.”
– Versigtig Lewe
Onder Ou Tafelberg is ‘n goeie versameling van liedjies met genoeg tematiese samehangendheid, maar ook genoeg verskeidenheid om nooit vervelig te raak nie. Hulle ernstige Afrika-invloede en liefde vir reggae (sien Waar’s die Revolusie) is minimaal op Onder Ou Tafelberg – en dit werk goed om die primêre liriek-gedrewe blues-rock klank te versterk. Die album bereik sy rock ‘n roll klimaks met Elkeen vir Homself, en sluit daarna af met die pragtige sonsondergang-ballade Bomskok Son – presies wat nodig is om luisteraars se monde te laat water vir die volgende Akkedis- konsert of -album. Kom ons hoop die volgende een vat nie weer 7 jaar om te verskyn nie!
Akkedis is ‘n Blues Rock Reggae African band van Somerset-Wes. Hulle nuutste album, Onder Ou Tafelberg, is beskikbaar by VHMusic.co.za en binnekort op iTunes.