Bestanddele
- Liefde
- Teleurstelling
- Wraak
- Komedie
- Middeljare
- Kookkuns
- Anna-Mart van der Merwe, Elzabe Zietsman, Deon Lotz, Frank Opperman
Die kors
Begin met ‘n deeglike laag liefdestelleurstelling. Anna-Mart van der Merwe se Clara Brand moet aanbeweeg met haar lewe nadat sy uitgevind het haar man Bernard (Deon Lotz) verneuk haar met ‘n vriendin (Angelique van der Merwe). Elzabe Zietsman speel Minette, haar laaste vertroueling, vriendin, en kollega by die vrouetydskrif Eva.
![Dis Koue Kos, Skat. © 2015 Karoo Film Company & Welela Studios. All rights reserved](http://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2016/08/7f73371d-42d1-46c2-acaf-d9ee7a6bf2a4_web-1024x683.jpg)
Sien, Clara is ‘n kosskrywer. So sy dink in kos, kook graag, en praat dikwels in kookmetafore. Soos die alombekende gesegde wat sê dat wraak ‘n koue dis moet wees. Vandaar die film (en Marita van der Vyfer-roman waarop dit gegrond is) se titel. Want Clara vat die pad Kaap toe met haar twee kinders, en begin oor – so ver as moontlik van die bliksem Bernard en sy nuwe meisie af. Maar dis nie maklik om die pa van jou kinders uit jou lewe te sny nie. Veral wanneer jou kop tob met planne om hom terug te kry.
Vulsel
Al die bekende standaard romantiese komediegoed moet gebeur. Clara word aangemoedig om nuwe liefde te vind. Die fliek se storie maak ‘n paar kinkels en draaie, soos moontlike liefdesdriehoeke, en genoeg wraakfantasietonele. Selfs Bouwer Bosch en Anne Hirsch maak vinnige verskynings, so dit is definitief ‘n Afrikaanse romantiese komedie waarna jy kyk. Maar al die bekende tonele (veral die “disaster date” waarop Clara haarself vind) word op vars en nuwe maniere hanteer. Die regisseur, Ettiene Fourie, en Marita van der Vyfer as mede-draaiboekskrywer, het dit hier reggekry om bestandele wat ons al talle kere in ander romantiese komedies gesien het, interessant en onvoorspelbaar saam te voeg en clichés te vermy.
![Dis Koue Kos, Skat. © 2015 Karoo Film Company & Welela Studios. All rights reserved](http://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2016/08/eefc5d63-f1df-4602-b791-cec766b817aa_web-1024x683.jpg)
Nie elke grap in die fliek werk so glad soos dit moet nie, maar meeste skiet ‘n kolskoot. En die fliek is nie bang om dinge soos drankmisbruik (en konfytmisbruik?), en wraak uit te beeld nie, en beeld selfs sonder skaamte uit dat middeljarige (en ouer) vrouens nog ‘n sekslewe kan hê. Dis darem ook ‘n fliek met hart, goeie toneelspel, en ‘n storie volop verwikkelinge – tot die einde! Verder is daar gesorg vir goeie kamerawerk, beligting, en grafika, wat Dis Koue Kos, Skat op ‘n tegniese vlak óók laat uitstyg bo die goedkoop gemiddelde Afrikaanse romantiese komedie.
Giet alles nou op ‘n silwerskerm en bak vir 1 uur en 45 minute.
![Dis Koue Kos, Skat. © 2015 Karoo Film Company & Welela Studios. All rights reserved](http://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2016/08/2d925496-dac7-4c88-b7c5-2e42fec4506f_web-697x1024.jpg)
Garnering
Bedien in jou naaste rolprentteater. As daar nou ooit ‘n fliek was vir ‘n girls’ night vir meer volwasse vroue, is Dis Koue Kos, Skat die een. Maar dis baie toeganklik vir ‘n wye gehoor, en slegs konserwatiewe kykers mag dalk deur sekere tonele afgesit word.
Dis Koue Kos, Skat is ‘n nuwe rolprent gegrond op die gelyknamige roman deur Marita van der Vyfer. Die fliek begin draai in rolprentteaters op 26 Augustus.
One thought on “Koue kos, warm liefde, vars fliek: Dis Koue Kos, Skat”
Comments are closed.