Ons almal ken ‘n Lafras Verwey. Daai stil outjie in die IT-afdeling wat soms staan en praat met homself, fiets ry werk toe, en dikwels lyk of hy nie luister as mense met hom praat nie. ‘n Gawe, ordentlike ou wat droom, die teiken van kollegas se poetse is, en siek en sat is vir die onreg en boosheid in die wêreld. In Die Rebellie van Lafras Verwey speel Tobie Cronje daardie titelrol, en beeld hom uit as ‘n Jan Alleman, maar ook as ‘n idealis om na op te kyk.
Lafras Verwey is ‘n staatsamptenaar wat ou dossiere digitaliseer, maar konstant in die moeilikheid is: óf by sy baas, óf as onderwerp van sy kollegas se gespottery. En hy dagdroom heeltyd. Hy speel peletonoffisier as hy badkamer toe gaan, of dirigeer simfonieë terwyl hy fiets ry. Hy’s eensaam en ‘n buitestander, en lewer in sy vrye tyd geheime pakkies af vir ‘n ondergrondse organisasie – hy glo in hulle saak, aangesien hy moeg is vir die fat cats in hul groot swart 4×4’s, die boelies wat mense misbruik en onderdruk, en “‘n land waar die vryheid van die individu slegs in die verbeelding bestaan”. Hy glo in die rewolusie wat op pad is, en droom van ‘n Suid-Afrika wat met plofstof vernietig word, en regverdig van voor af begin.
![Die Rebellie van Lafras Verwey](http://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2017/04/web_Lafras-1011-269-1024x682.jpg)
Dan loop hy op pad huis toe vir Petra raak. Sy’s hoog swanger, en word amper flou, en die goedhartige Lafras nooi haar na sy woonstel sodat sy bietjie kan rus. Die verhouding begin ongemaklik – mens kan sien hy kry nie baie gaste nie, en oordryf wanneer hy oor homself praat – maar ‘n simbiotiese band vorm tussen hulle.
Tobie Cronje maak ‘n perfekte Lafras Verwey – met ‘n geloofwaardige balans tussen absurde fantasieë, sosiale wanaangepastheid, onderliggende woede en bravade. En Petra is broos en subtiel – versigtig maar gepas vertolk deur Chantell Phillipus. Saam maak hulle ‘n onverwagse, onkonvensionele, maar simpatieke paartjie wat mekaar aanvul – beide as karakters en as akteurs. ‘n Mens wissel maklik tussen Lafras jammer kry, en agter hom as protagonis staan. Hy is ‘n komplekse karakter wat nie altyd verstaanbaar is nie, maar tog herkenbaar voel.
![Die Rebellie van Lafras Verwey](http://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2017/04/web_Lafras-May-22.203-1024x682.jpg)
Nes dit ‘n Kantinka Heyns-produksie betaam (sy is die vervaardiger, en haar seun, Simon Barnard, die regisseur), is die kamerawerk, beligting, stelbekleding, en veral rekenaareffekte op ‘n goeie standaard waar dit byna onopmerkbaar is, en die storievertelling net aanhelp en opkikker. Veral die uitbeelding van Lafras se verbeelding is stylvol en eenvoudig geïntegreer. Klankontwerp is spesifiek opmerkbaar goed en ryk, en speel eintlik ‘n belangrike rol in die storie – seker ‘n neweproduk van die storie se oorsprong as radiodrama.
Die Rebellie van Lafras Verwey is ‘n karakterstudie van iemand wat nie eenvoudig is nie – iemand wat waarskynlik bietjie bestudering nodig het. Jy weet, ‘n regte mens. Met foute, en ongemaklike goedhartigheid en sjarme, en groot drome – dalk ‘n bietjie van ‘n probleem met realiteit onderskei ook. Maar ek dink dis ‘n waardevolle blik op ‘n ongewone man: Iemand wat waarskynlik meestal as ‘n mislukking geklassifiseer word, maar ‘n naïewe, goeie hart het en doen wat hy kan om verandering te bring. En iemand wat ons almal kan herken, en met wie ons almal kan simpatiseer.
Ons almal is ‘n Lafras Verwey.
Ek is ‘n Lafras Verwey.
Die Rebellie van Lafras Verwey is ‘n nuwe rolprent geregiseer deur Simon Barnard, gegrond op die gelyknamige radiodrama en verhoogstuk deur Chris Barnard, met Tobie Cronje in die hoofrol. Dis van 7 April af in fliekteaters. Kyk ook gerus die video-weergawe van hierdie resensie op YouTube.
One thought on “Die Bekende Rebellie: Lafras Verwey”
Comments are closed.