Alternatief is Groot, en wil jou die kys vra

Alternatief Is Groot CD Cover

Op hoërskool, as jy ‘n oulike jong dame in die oog gehad het maar nie seker was hoe om jou gevoelens aan haar te openbaar nie, kon jy altyd ‘n mix CD maak. Dis nou oor ek in die vroeë 2000’s (na die tyd van kasette) op hoërskool was – ek vermoed hulle maak deesdae speellyste op hul gunsteling aanlyn musiekstroomdiens. Bogenoemde CD was dan propvol liefdesliedjies, sodat sy sou seker wees. As CD-maker was dit jou werk om ‘n versameling goeie liedjies te kies, hul in mekaar te laat vloei deur noukeurig die volgorde uit te werk, maar belangrikste van alles: om sonder twyfel jou verliefdheid uit te druk. Nou het die mense agter Coleske ArtistsSupra Familias, en Afrikaans is Groot saamgewerk om ‘n mix CD te maak wat vir ‘n wye gehoor van alternatiewe Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers: Alternatief is Groot.

Alternatief Is Groot CD Cover

Natuurlik is geen bewys-van-liefde mix volledig as dit nie met Francois van Coke en Karen Zoid se Toe Vind Ek Jou afskop nie. Hierdie dubbel CD is eintlik stampvol van soortgelyke treffers, bekende kulturele kenmerke, en as-jy-hierdie-een-nog-nie-ken-nie-is-dit-‘n-skande snitte. Ek dink wat my die meeste beïndruk het van hierdie versameling is dat dit nie die ou classics afskeep nie – daar’s eVoid se Shadows, Kerkorrel se Hillbrow, asook Eyeshadow, GroentruiBlue Eyes, en Sugarman (die trots Suid-Afrikaanse weergawe deur Just Jinger), Wonderboom se weergawe van AfricaAlternatief is Groot onthou dus die belangrike grondslag van Suid-Afrika se alternatiewe musieklandskap – dié name wat ook vir Francois van Coke en Die Heuwels Fantasties as inspirasie gedien het.

Só gepraat van daai Bellville-spul, dié twee verskyn elk meer as een maal: Francois van Coke op sy Karen Zoid-duet Toe Vind Ek Jou, op Van Coke Kartel se Tot Die Son Uitkom, en saam met Fokofpolisiekar vir Ek Skyn (Heilig). Pierre Greef se stem is weer op Die Heuwels Fantasties se Sy, Lukraaketaar se Om Te Kan, en as gaskunstenaar saam met Loki Rothman op My Kamer. Laudo Liebenberg het ook ‘n solosnit (Lang Pad Na Later), behalwe vir sy meer bekende posisie as aKing se voorman op Against All Odds.

Alternatief is Groot laat my baie aan die destydse MK-televisiekanaal dink. Heelparty van hierdie liedjies het hul gehoor met behulp van dié musiekkanaal gevind. StraatligkindersRyno VelvetJax PanikThieveGazelle, en Die Tuindwergies is almal name wat, as ek nou reg onthou, alternatiewe treffers in MK se bloeityd was. Maar dit laat my ook dink aan hoe MK ‘n bron was vir opwindende, interessante nuwe musiek. Net so kan jy op Alternatief is Groot heel waarskynlik mooi musiek ontdek wat jy nog nooit gehoor het nie: Nakhane Toure se snit The Plague is byvoorbeeld ‘n pragstuk wat in terme van teikengehoor baie min in gemeen het met die ander snitte op die versameling, en wat vir baie mense dalk ‘n knap nuwe fonds sal wees.

As jy die dubbel-CD deurluister, voel niks te wild of volksvreemd nie. Dis alternatief, maar ook nie só alternatief nie. Ek geniet veral die aangename verrassing dat die gekose Van Coke Kartel-, Springbok Nude Girls-, en Fokofpolisiekar-liedjies van hul rustigste, mooiste werke is – goed waarna my ouma sal kan luister. Die wildste wat Alternatief is Groot bied, is waarskynlik Straatligkinders se Kan ek met jou dans, Albert Frost se Devils and Gods, en Jax Panik se Dinosaur. Wie sou nou ooit kon dink dat Matthew Mole, Desmond and the tutus, Klopjag, Nakhane Toure, Taxi Violence en Thieve ooit op dieselfde CD sal verskyn?

Kyk, as ek Alternatiewe Suid-Afrikaanse musiek was, het ek solank ‘n fênsie rok uitgesoek – want die ouens aan die stuur van hierdie CD-projek gaan my definitief vra na die matriekafskeid – met die res van Suid-Afrika kort op hulle hakke.

Alternatief Is Groot CDs

Snitlys

CD1:

1. Toe vind ek jou – Francois van Coke ft. Karen Zoid
2. Dit stop nou – Nagligte
3. Sy – Die Heuwels Fantasties
4. Take yours, I’ll take mine – Matthew Mole
5. Pretoria Girls – Desmond & The Tutus
6. Don’t wanna be your friend – Mi Casa ft Euphonik
7. Dinosaur – Jax Panik ft. Korianda & Daddy Spencer
8. Come with me now – Kongos
9. Hopelik – Bouwer Bosch
10. Tot die son uitkom – Van Coke Kartel
11. Shadows – eVoid
12. Africa – Wonderboom
13. Hillbrow – Johannes Kerkorrel & die Gereformeerde Blues Band
14. Johnny is nie dood nie – Koos Kombuis
15. Eyeshadow – Valiant Swart
16. Against All Odds – aKING
17. Groentrui – Jan Blohm
18. My Kamer – Loki Rothman ft. Pierre Greeff
19. Hosh Tokolosh – Jack Parow ft Gazelle

CD 2:

1. Lang pad na later – Laudo Liebenberg
2. Ek Skyn (Heillig) – Fokofpolisiekar
3. Ek Sweer – Twee
4. Wild Western Cape – Thieve
5. The Plague – Nakhane Toure
6. Blue eyes – Springbok Nude Girls
7. Disco Lazarus – Sugardrive
8. Die Verlore Seun – Gazelle
9. Die Dinkdansmasjien – Bittereinder
10. Sugarman – Just Jinjer
11. Hello – Prime Circle
12. Beaten by the Gun – Taxi Violence
13. Devils and Gods – Albert Frost
14. Kan ek met jou dans – Straatligkinders
15. Afrikaners is plesierig – Karen Zoid
16. Ai my lam – Ryno Velvet Band
17. Om te kan – Lukraaketaar
18. 24 uur – Klopjag
19. Kopskudkinders – Die Tuindwergies


Alternatief is Groot is tans by alle goeie musiekwinkels beskikbaar. Kyk gerus by takealot.com of Musica.