Vuil Wasgoed gaan oor Wim en Kevin wat in ‘n wassery werk, maar die titel dui ook op die spreekwoordelike onderduimshede waarin hulle betrokke raak wanneer hulle hul mag oor vreemdelinge se klere misbruik. Want Wim en Kevin (onderskeidelik gespeel deur Bouwer Bosch en Bennie Fourie) trek graag hul kliënte se klere na partytjies toe aan.
Ek dink dis ‘n goeie teken dat ek eers lank na die fliek se einde begin wonder het of hulle eers die klere was, en dan na die partytjie weer.
Maar dit is so omdat die plot redelik dig is. Een aand ー ongelukkig tydens ‘n intieme oomblik by een van die bogenoemde partytjies ー ontdek Kevin ‘n afgesnyde vinger met ‘n reuse ring aan in sy geleende baadjiesak. En om dinge reg te stel, beloningsgeld te ontvang, lewendig aan die ander kant te kom en hopelik ook in die proses die meisie te kry, beland Kevin en Wim in groter en groter moeilikheid met ‘n Johannesburgse smokkelsindikaat.
Die fliek begin waar die bende ー meestal Meneer Gotty en sy seuns ー van hul vyande ontslae raak, maar versigtig moet skiet sodat die lyke nie op hulle duur persiese mat bloei nie. En daarmee verstaan jy presies die fliek se humorsin: grappig, eenvoudig, en bietjie vespot. Dis regte ontsnappings-vermaak, waar jy kan agteroorsit, vergeet van die werklikheid, en heerlik lag.
DIs definitief ‘n vis-uit-water soort storie, maar dit het ook ‘n regte gangster-fliek storie. Die misdaad, en die verskeie betrokke karakters raak al hoe ingewikkelder met elke toneel — en die hoofkarakters verder buite hul gemaksone. Wat natuurlik ‘n goeie resep is vir komedie – veral as jou hoofkarakter in die beste omstandighede nie weet wanneer om die meisie te soen nie.
Die grootste negatiewe ding aan die fliek is dat daai plot dalk hier en daar té ingewikkeld word. Ek’t in twee tonele gewonder, “wat maak hulle nouweer hier?” Maar dis eintlik die soort fliek waar bietjie verwarring glad nie saak maak nie. Jy kan eintlik net terugsit, vir 90 minute probeer om nie te hard aan enige iets te dink nie, en net die komedie geniet.
Vuil Wasgoed begin 8 Desember in teaters. Dis geregiseer deur Morné du Toit, en het Bennie Fourie en Bouwer Bosch in die hoofrolle.