Alhoewel ek nie self by verlede jaar s’n was nie, kon mens agterkom aan die gehoor dat Liefde By Die Dam 2017 reeds soos ‘n instelling voel. Daar is ‘n rustige gemak aan die konsertgangers by Emmarentia Dam, wat heel waarskynlik omtrent op hul agterstoep kon kom piekniek hou, musiek luister, en aan ‘n maklike liefdadigheidsveldtog deelneem.
As mens by die terrein sou instap terwyl Majozi reeds aan die beurt was, sou die musiek die perfekte atmosfeer skep – lig, gemaklik, maar met ‘n sterk ritme as ruggraat. Die heerlike sonskyndag (‘n verrasing vir die watter-seisoen-is-Augustus-nou-eintlik situasie wat Johannesburg vanjaar beleef het) is natuurlik ook perfek vir ‘n kombers en piekniekmandjie uitgooi, yskoue drankies geniet, en selfs die roommysstalletjie besoek.
Buiten roomys was daar gelukkig ‘n lekker verskeidenheid kosstalletjies om te beproef met alles van hamburgers tot taco’s.

Daar was oral JacarandaFM handelsmerke te sien, radio-omroepers op die verhoog as seremoniemeesters, en dit het die gevoel geskep dat die gehoor veronderstel is om Jacaranda s’n te verteenwoordig. Dus het Jo Black soos die natuurlike opvolg gevoel. Jo Black se diep stem wat grom uit dááí baard, saammet ‘n ongelooflike vaardige orkes laat mens verstaan hoekom hy ‘n gewilde keuse is vir konserte regoor die land. Maar sy stories en inleidings tussen liedjies voel vir my of dit soms bietjie neig na “prekerig” – hoewel mens sulke sentimente seker moet verwag op ‘n liefdadigheidskonsert met “Liefde” in die naam.
Maar my skatting van die dag se gehoor was waarskynlik anders as die organiseerders s’n, want JR se hip-hop het vir my bietjie volksvreemd gevoel tussen die res. Daarna het Riana Nel die konsert teruggebring Afrikaans toe, sonder dat gevorderde swangerskap haar terughou. Sy het die gehoor aan haar lippe laat hang, met haar sterk lirieke, asook ‘n indrukwekkende improviseer-‘n-splinternuwe-liedjie paartietruuk.

Loki Rothman en Laurika Rauch klink dalk aanvanklik na ‘n ongewone kombinasie, maar hul komplementeer mekaar wonderlik. Loki se kitaarspel is soos ‘n nuwe baadjie vir ou bekende Laurika-liedjies soos Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Kinders van Die Wind, Blouberg se Strand, en Blou. Daarna het Tresor bewys dat die grootliks Afrikaanse groep toeskouers hul nie deur Engelse alt-pop laat afsit nie, Francois van Coke het bevestig dat hy nou ‘n familievriendelike konsert kan hou (wat nogsteeds bietjie skop met die Beastie Boys classic (You’ve Gotta) Fight For Your Right (To Party).

Vir so ‘n vrolike somersdag met “Liefde” as tema was Die Heuwels Fantasties se slot-vertoning ‘n tematiese bittersoet ervaring wat mense gelyktydig laat dans en treur het met donker lirieke soos díé van Leja en Pille vir Kersfees. Tog dink ek is almal glimlaggend huistoe, al het die collaboration-potensiaal van die line-up bietjie teleurgestel (Francois van Coke het darem kom Sonrotse saamsing).
Oppad kar toe kon bywoners hul piekniekkomberse skenk aan Liefde Wen, wat dit aan behoeftige informele nedersettings gaan skenk.