Die woord “disfunksioneel” laat my meestal dink aan ’n absurde sitkom-familie, soos dié van The Simpsons of Malcolm in the Middle, of in Wes Anderson-flieks soos The Royal Tenenbaums of The Darjeeling Limited. En daai voorbeelde het NIKS in gemeen met Nêrens, Noord-Kaap nie. Tog voel ek “disfunksioneel” is die beste woord om hierdie reeks se karakters te beskryf: Hulle is drie-dimensionele, uiters geloofwaardige karakters, maar elkeen het hartseer waarmee hy saamleef, en sukkel om eerlik te kommunikeer met hulle familie.
Die reeks is verwerk vanaf ’n gelyknamige toneelstuk geskryf deur Nico Scheepers (Die Maan Val Bewusteloos, Posbus 1), wat as Beste Nasionale Debuut by die Vrystaat Kunstefees bekroon is, en die kykNET Fiësta-toekenning vir beste Ensemblewerk verower het. Scheepers het ook die draaiboek vir die TV-reeks geskryf met Saartjie Botha as teksredigeerder, en saam met Johan Cronje (Wonderlus, Meisies wat Fluit) geregisseer.
![](https://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2021/08/1627631889-28_DSC04247.jpg)
Op die plaas Nêrens, in die Noord-Kaap, woon pa Lourens Adendorff (Frank Opperman), en hy het ’n ongemaklike verhouding met sy drie seuns, gespeel deur De Klerk Oelofse (Hotel, Fynskrif), Albert Pretorius (Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu) en Geon Nel (Die Boekklub, Die Seemeeu). Die broers het elkeen hul eie konflik met die plaas en die verlede, en is elkeen op hul eie manier op soek na die toekoms wat vir hulle bestem is: Een verken die wêreld oorsee, een probeer op sy eie voete staan as geskeide pa, en een het potensiële geluk opgegee om agter te bly as plaasbestuurder.
![](https://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2021/08/Nerens-Noord-Kaap-1024x603.jpg)
Die karakters is almal vasgepen tussen die aantrekkingskrag van die toekoms se potensiaal, en die ankers en boeie van die verlede. En net só is die reeks self iewers in die middel van ’n Venn-diagram waar Televisiereeks, toneelstuk, en film oorvleuel.
Die produksieontwerp, van stelbekleding tot kostuums en grimering, werk goed saam met die kamerawerk om prentjiemooi tonele te skep wat, soos ’n poskaart, uiters natuurlik voorkom. Dis ’n goed-gebalanseerde middelpunt wat nooit oordrewe lyk nie, maar soos ’n goeie film jou visueel verlei om te glo dat die regte lewe net bíétjíé mooier is, ten spyte van al die stof en sweet. En elke af en toe speel daar suutjies ’n paar note op die klankbaan om die stiltes te temper, asof dit die potensiaal raaksien vir hoop, geluk, en verlossing op die horison.
![](https://www.theflow.co.za/wp-content/uploads/2021/08/1627631516-28_DSC03975.jpg)
Dan balanseer die toneelspel ook tussen versigtig (want geen van die disfunksionele karakters wil te veel van hulle werklike gevoelens ontbloot nie) en emosiebelaai (want binne-in voel almal ernstige konflik wat net onder die oppervlak borrel). Selfs die kinderakteurs kom verbasend geloofwaardig oor, en die skaapboere lyk of hulle regtig te veel tyd in die son spandeer. Geen spierwit stadsjapie-bene wat onder ’n kortbroek uitsteek nie!
As jy nie die stamina het vir ’n stadig-ontvouende drama nie, mag Nêrens, Noord-Kaap jou geduld dalk toets. Die reeks is nie haastig nie, maar verloop teen ’n tempo wat wel baie gepas is vir die onderwerpsmateriaal. Hierdie is nie brandewyn-en-Coke vermaak, waar die hardehout deur ’n klomp soetsappigheid afgewater word nie. Maar wanneer daar humor is, is dit die nodige vonkies wat verhoed dat die spul nie té swaar raak nie.
Nêrens, Noord-Kaap is ’n topgehalte TV-drama wat so mooi is soos ’n film, en so hartroerend soos ’n toneelstuk. Met alledaagse, realistiese drama op ‘n vlak waarmee almal hul kan vereenselwig, wat deur uiters bekwame toneelspel en filmiese produksie oorvertel word, is Nêrens, Noord-Kaap ‘n trefferreeks wat net wag om gekyk te word.
Nêrens, Noord-Kaap is vanaf 31 Augustus om 20:00 op kykNET, en sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.