‘n Malan maak ‘n plan in Alles Malan reeks 2

Ek kan verstaan hoekom Alles Malan ‘n tweede reeks gekry het, ten spyte daarvan dat dit gaan oor karakters wat bietjie bogemiddeld welgesteld is. Want die program is verseker nie geskryf om vir die deursnit-kyker aan hulle eie omstandighede te laat dink nie. Sommer in die eerste tonele van die eerste reeks, waar Frik Malan (Ivan Zimmerman) terugkeer uit Engeland om die familiebesigheid oor te neem, en sy vrou Tessa (Nadia Valvekens) besluit om nie te werk nie en te konsentreer op ouerskap, is dit duidelik dat die Malans geld het. Nie onuitputbare skatte nie, maar ver bó minimumloon.

Albert Maritz speel die patriarg, Derik Malan, wat ‘n suksesvolle vervoerbesigheid bestuur begin het wat Frik nou oorgeneem het, en sy vrou, die bougie Brenda (Elsabe Daneel) wat ewe veel sukkel met haar man se gesondheid en sy hardkoppigheid. Die tweede reeks begin met ‘n ooievaarstee vir Derik en Brenda se ander skoondogter, Lee-Ann – gespeel deur Nicole Fortuin. Sy en Sean-Marco Vorster se Nico moet ouerskap onder die knie kry terwyl hulle nog werk aan die verhoudings met hulle eie ouers, terwyl die kleinkinders, Elani en Freek, met enkelouerskap, tienerromanse, bestuurslesse, en sosiale media-roem moet saamleef.

Wat Alles Malan toeganklik maak – ten spyte van die familie se klas-status wat iewers tussen dié fancy prokureurs van Fynskrif en die byna-boemelaars van Ekstra Medium lê – is hoe algemeen hulle probleme is. Die besigheid doen nie altyd ewe goed nie, verhoudings is dikwels moeilik, familiegeskiedenis laat mens bekommerd, en gesondheid – beide fisies en geestelik – sien nie geld of status raak nie.

Die nuwe reeks maak ook deure oop vir nuwe probleme, en nuwe rigtings vir die karakters om in te groei. Af en toe is ’n storielyn of ‘n spreekbeurt bietjie oordrewe of ongeloofwaardig, maar die fokus op familie – wat tog eintlik ’n fokus op liefde is – laat mens daarby verby kyk. Met ‘n toepaslike ligte kitaarklankbaan tref Alles Malan ‘n lekker balans tussen verhoudingsdrama, mooi stories, en karakters wat voel soos mense wat ons ken met probleme wat ons verstaan… wat keer op keer herinner word dat familie, eerlikheid, en liefde die oplossing bied.


Die tweede reeks van Alles Malan begin 30 November om 20:00 op KykNET. Die eerste reeks is op Showmax beskikbaar.