Jack Parow vertel: ‘n Q&A oor Die Ou Met Die Snor By Die Bar

“Ek dink ek is die complete opposite van die gemiddelde rapper.”

Dis nog vroeg op ‘n Woensdagaand aan die noordelike randjie van Melville. Net agter daai ouderwetse “Welcome to Melville” bord is Love Books – ‘n knus, dog ruim boekwinkel. En ons is hier om te hoor hoe Jack Parow gesels met die joernalis Angola Badprop (oftewel Jaco Nel), oor sy nuwe boek – Die Ou Met Die Snor By Die Bar.

Jack Parow - Die Ou Met Die Snor By Die Bar - at Love Books in Melville, JHB
Jack Parow – Die Ou Met Die Snor By Die Boekrak – by Love Books in Melville, JHB

“Dis eintlik befok as mense my probeer slaan op stage,” vertel Jack Parow. “Dit beteken ek doen tog iets ordentlik reg.”

Hy vertel ook hoe hy in sy jong dae by Melkbos gaan surf het, en “letterlik gebliksem” is net omdat hy daar opdaag met ‘n Bellville nommerplaat.

Parow praat nie suiwer Afrikaans nie, en daar’s geen wag voor sy mond nie. Maar mense hang aan sy lippe. Die ou kán stories vertel. En dis seker hoekom daar ‘n boek is. Al is dit deur Theunis Engelbrecht oorvertel of afgestof. Soos dit hoort weet mens nie presies wat Theunis se aandeel is nie, aangesien die boek in eerste persoon deur Parow self vertel word. Hy noem ook dat hy trots is op wat een van sy helde oor Die Ou Met Die Snor By Die Bar te sê gehad het: Koos Kombuis meen dat dit “loshande een van die lekkerste boeke is wat ek al gelees het.”

Jack Parow - die ou met die snor by die bar

En dan wonder ‘n mens natuurlik of daar vergelyk moet word tussen Kombuis en Parow (onderskeidelik eintlik André le Toit en Zander Tyler). Hulle lewer graag sosiale kommentaar en satire deur dikwels-komiese musiek, maar het definitief ook ‘n sagte, diep, en ernstige kunstige kant. Koos Kombuis het self al ‘n vloekwoordjie of twee op verhoë laat glip, maar ek glo nie Steve Hofmeyr wou hom al bliksem nie. Een merkbare verskil is dat Parow wegbly van geloof en politiek as onderwerp:

“Ek voel veral in Suid Afrika omdat ons so bombard word met [geloof], en omdat ek, toe ek grootgeword het, so baie ge-bombard was met religion, en nou, in die koerant en so, baie ge-bombard word met politics, voel ek as ek uitgaan, wil ek nie nog hoor daarvan nie. So ek wil my musiek lig hou.

“Jy gaan uit om die kak te vergeet wat aangaan, so jy wil nie uitgaan en dan nog gaan hoor hoe kak goed is nie.”

Jack Parow - die ou met die snor by die bar

Jack Parow het interessante opinies, lekker stories, en ‘n kombinasie van kinderdae in Bellville, en ‘n nie-altyd-konserwatiewe Afrikaanse familie:

“My ma is een van daai Afrikaanse tannies waar, enigiets wat ek doen, is sy fokken mal oor. En sy was altyd soos, as mense kom [kuier], ‘kom rêp virrie tannies’. En dan rap ek hierdie lyrics wat só vuil is; só horrible. En dan’s sy net soos ‘kan jy glo hy onthou al daai woorde?!’

“My ma is ‘n cool persoon want sy het daai kind of mentality oor die lewe en sy het dit by my instill dat jy is wie jy is, en wees wie jy is, en moenie worry wat mense vir jou sê oor hoe jy moet wees of enigiets nie – wees net wie jy is.”

Dis seker daai stories en lewenslesse wat ‘n biografie regverdig, al is Jack maar net 33. Ek kan nie wag om Die Ou Met Die Snor By Die Bar te lees nie.