Gaia skrywer Tertius Kapp en die reg om groot te gaan

Tertius Kapp

Tertius Kapp is ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer, wat al flieks soos Griekwastad, Somerkersfees, Asseblief en Dankie, en Rage, TV reekse soos 4 Mure, Die Spreeus, en teaterstukke soos Poskantoor, Oorsee, en Rooiland geskryf het. Sy nuutste fliek, Gaia, is vanaf vandag beskikbaar op DSTV BoxOffice.

Dis nou al ‘n paar jaar vandat ek die eerste keer van Gaia gehoor het, kort nadat die fliek tydens die COVID-pandemie geskiet is. Voor sy plaaslike debuut het die fliek by ‘n paar internasionale filmfeeste gewys, en aandag gekry – asook toekennings.

“Soms kan jy die donkerte verlig met ‘n onverwagte mooi toneel”

Ek het vir Tertius gevra waar sy liefde vir gruwel-genres vandaan kom.

“As ek terugkyk na my opstelskryfwerk op skool,” verduidelik hy, “dan was die belangstelling maar altyd daar.”

“Ek dink daar is vir my soveel geleenthede met die tipe plots, en ook die estetika van gruwelfilms, wat toelaat dat mens kan wegbreek en innoverend wees. Ek dink ‘n mens kan op meer kombinasies van emosies inspeel as in meeste ander genres.

“Soms kan jy die donkerte verlig met ‘n onverwagte mooi toneel, byvoorbeeld.”

Ons eie impak op die planeet

Vanaf die eerste gerugte wat ek oor die fliek gehoor het, is Gaia beskryf as ‘n ‘ekologiese gruwelfliek’.

“Dit was nogal moeilik om die verskillende idees te laat saamwerk,” vertel Tertius. “Die natuur het nie baie van die eienskappe waarna mens soek in ‘n goeie antagonis nie. Die gevolge (vat iets soos klimaatsverandering) is dramaties, intens, en noodlottig, maar ook sporadies en inkoherent. Maar deur die Barend-karakter [vertolk deur Carel Nel] as ‘n soort ‘profeet’ van die natuur, kon ek dit meer gefokus maak.”

“Ek dink die idee vir die kombinasie van ekologie en gruwel was eintlik ‘n soort ‘duh’ oomblik – wat is die grootste gevare wat ons vandag bedreig? Ons eie impak op die planeet is baie scarier as Pennywise of Hannibal Lecter.”

“Dis lekker om in Afrikaans te skryf.”

Om by internasionale gehore aanklank te vind, het die filmspan doelbewus ‘n meer gewaagde benadering gevolg. “‘Edgy’ was vir ons ‘n belangrike doelwit, en ek dink mense sien dit seker in ‘n paar sekwense in die film. Ons het ook met die tema probeer inskakel by iets wat internasionaal relevant is.”

Gaia se eerste tonele is ook in Engels, voordat ‘n meertaligheid (grootliks Afrikaans) oorneem.

“Ons wou bietjie Engels gebruik om die internasionale gehoor gerus te stel,” verduidelik Tertius. “En hulle in te trek voordat hulle te veel onderskrifte hoef te lees. Toe besluit ons om die taalverskil in die storie in te werk. Stefan [Alex van Dyk se karakter] praat net Afrikaans, daarom kon Gabi [Monique Rockman] besluit dat hy verstaan of nie. Afrikaans is terselfdertyd ‘n wonderlike taal vir ‘n skurk, omdat dit so uitdrukkingsvol is, maar daar is ook ‘n baie mooi onskuldigheid daaraan.”

“Ek is nie altyd seker of Afrikaanse mense besef hoe idiomaties en uniek hulle taal is nie. Deels omdat mens met ‘n kleiner woordeskat werk, is dit bietjie ‘growwer’, minder eksak. Daar is dikwels kreatiewe maniere om iets te sê, sonder om dit te sê.”

“Maar dit hang af van die projek – as dit vir ‘n meer internasionale gehoor is, sal dit natuurlik neig na Engels toe.”

‘n Kleiner produksie

Na die COVID-pandemie kan mens dikwels produksies uitken wat deur die grendeltyd beperk is. Toevallig is Gaia reeds as ‘n relatiewe klein produksie beplan.

“Dit was klein beplan, ja, maar ons is al baie gewoond daaraan om klein groot te laat lyk.”

“Soms (as ek dink aan iets soos die mini-reeks 4 Mure) werk daai beperking in jou guns, in die sin dat dit jou druk jou om kreatiewe oplossings in die teks te vind, en partymaal vind jy ‘n onverwagte gem. En my teateragtergrond help beslis hiermee – op die verhoog kan jy nie CUT TO: ‘n ander toneel nie.”

“Die gevaar is dat mens nooit klein moet dink nie. As jy ‘n film wil maak wat mense wow, moet jy jouself die reg gun om groot te gaan.”

Tertius is wel iemand wat moeilik is om in ‘n boks te druk. Wanneer hy nie gruwel- of spanningsverhale skryf nie, delf hy ook soms in ligter stories, soos verlede jaar se Kerstyd TV-fliek Asseblief en Dankie.

“Ek dink my werk in komedie is nog steeds ‘n stap of twee links van die hoofstroom, en ek het nog nie ‘n vaste styl nie. Soms vind mense dit verwarrend dat ek daarin eksperimenteer, maar dié wat my ken, weet ek is eintlik nie ‘n baie ernstige persoon nie!”

“Een van my gunsteling aanhalings is van Mel Brooks: ‘Tragedy is if I cut my finger; comedy is when you fall into an open sewer and die.'”


Gaia is tans beskikbaar op DSTV BoxOffice, met beperkte vertonings by die Labia in Kaapstad en The Bioscope in Johannesburg.