“Ek en Karen het besef dit is ‘n goeie song toe ons dit geskyf het,” vertel Francois van Coke oor die virale internetsukses van Toe Vind Ek Jou – die liefdesballade wat hy saam met Karen Zoid geskryf en opgeneem het.
“Voor die album [Francois van Coke, sy selfgetitelde solodebuut] uit was het ek dit natuurlik vir vriende gespeel, en selfs my metalhead chommies het hoendervleis gekry as hul dit hoor. Maar ek het in my wildste drome nie die reaksie verwag wat ons gekry het nie.”
Die YouTube video vir Toe Vind Ek Jou is “skaars ‘n dag nadat dit opgelaai is” reeds 50 000 keer gekyk – op die oomblik staan die telling op die webwerf ver bo 1,5 miljoen. En vanjaar, op 25 April, het Van Coke met 5 trofeë gespog by die 2016 Ghoema-musiektoekennings: Beste Rock-Album en Digitale Album Van Die Jaar vir Francois van Coke, en Gewildste Liedjie Van Die Jaar, Digitale Liedjie Van Die Jaar, en Beste Liedjie Van Die Jaar saam met Karen Zoid vir Toe Vind Ek Jou.
“‘n Paar van daai Ghoemas was ‘n groot verassing. Toe Vind Ek Jou is ‘n baie spesiale song. Ek dink ek het al voorheen ‘n paar ballades geskryf maar dit het nie hierdie tipe aftrek by mense gekry nie. Ek dink dit het te doen met die eerlikheid, kwesbaarheid en dat ek en Karen saam daaraan gewerk het. Dit het my gehoor baie verbreed. Nie net ouer mense nie, maar ook jonger mense vind aanklank by die lied. Daar is mense wat al van 2003 af Fokofpolisiekar volg en wat my steeds ondersteun en dan natuurlik was daar baie wat die laaste jaar bygekom het.”
“Ek weet nie of dit ‘n nuwe begin is nie; daar is heelwat rock music op die album en Jedd Kossew het saam met my gewerk aan die hele album, hy het ook kitaar gespeel op Toe Vind Ek Jou. Dit is tog fantasties om deel te wees van ‘n lied waarvan so baie mense hou.”
En nou, kort na die Ghoema-toekennings, op 16 Junie, is Francois een van ses groot kunstenaars wat gaan optree as deel van Liefde by die Dam, ‘n heeldag familie-georiëenteerde piekniekkonsert by Emmarentiadam in Johannesburg. Ek het definitief nooit voorspel dat die wilde punk-rock hoofsanger van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel eendag ‘n sonnige middagvertoning sal doen vir gesinne wat piekniek hou by ‘n dam nie. En daarom het ek baie gewonder of hy dit sien kom het.
“Ek is die laaste 2 jaar nogal ‘n morning person.”
“Ek is definitief nie meer dieselfde persoon as wat ek in 2003 was nie. Baie het verander. Ek het niks gehad nie. Ek is nou getroud, ek het ‘n hond en ‘n huis. Liefde verander baie. Ek is baie gelukkiger en minder kwaad. My solo-album is gemaak om te weerspieël wie ek nou is.”

Vandat Toe Vind Ek Jou uitgekom het, het die oornag sukses darem al by Van Coke ingesink. “Ek was nog steeds uitgefreak oor 5 Ghoemas – 2 daarvan was vir die album. Rock en Digitale Album van die jaar was ook fantasties om te kry.” Tog meen hy dat hy nog steeds baie bly en oorweldig is deur die aanhang en terugvoer.
Ek het nog nooit so baie videos van kinders wat ‘n song sing in my lewe gesien nie.”
– Francois van Coke, oor Toe Vind Ek Jou se grenslose populariteit
“Toe ons Fokofpolisiekar begin het in 2003 wou ons vir onsself iets skep om buite die norm ‘n bestaan te maak. Ek doen dit steeds vandag en druk elke dag die man ‘n pit.”
Liefde by die dam
Liefde by die Dam, die Jeugdag “music experience”, is vernoem na ‘n Valiant Swart-liedjie. Nie een wat Francois ken nie. “Om eerlik te wees, ek ken hom glad nie.”
Van Coke is wel ‘n groot fan van Swart se Mystic Boer-album, maar het dit ook baie laat eers ontdek. “Eers omtrent in die vroeë 2000’s. Ek het ‘n vriend gehad wat ‘n groot fan was en ons het daai album baie geluister in die vroeë oggende in Buitenkantstraat.”
Tydens Francois se stel by Liefde by die Dam, kan jy hoofsaaklik liedjies van sy solo-album verwag. “Ook ‘n Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel tune of twee. En ek en Die Heuwels Fantasties sal altyd iets saam doen as ons op dieselfde bill is. Daar is baie songs wat ons kan saam doen.”
Maar waarheen gaan mens na ‘n reusagtige, loopbaan-vernuwende ervaring soos Toe Vind Ek Jou? Meer van dieselfde? Terug na jou wortels? “Ek is besig om te skryf aan ‘n nuwe album. Hy sal vroeg in 2017 uit wees. Fokofpolisiekar speel by Oppikoppi hierdie jaar! Fokof was 3 jaar terug by Koppi, so dit gaan ‘n groot party wees.”
Francois van Coke speel op 16 Junie by Liefde by die Dam, by Emmarentiadam in Johannesburg. Kry jou kaartjies by , of probeer ‘n dubbelkaartjie wen. Liefde by die Dam is op Facebook, Twitter, en Instagram, en jy kan saampraat deur die hashtag #LiefdeByDieDam te gebruik.