Eintlik Nogal Baie het ‘n tipiese Afrikaanse romantiese komedie-titel. En Eintlik Nogal Baie het ‘n tipiese Afrikaanse romantiese komedie-plakkaat. Maar dis nie ‘n tipiese Afrikaanse romantiese komedie nie. Eintlik nogal glad nie.
Die lokprent en teaser skep ‘n meer akurate indruk van wat die fliek is. Nadat Jay van Niekerk (Andre Lotter), ‘n werk-behepde comic bookskrywer en -kunstenaar, terugkeer huis toe vir sy pa se begrafnis, ontmoet hy ‘n buitengewone meisie, Ally (Marisa Drummond), wat hom uit sy gemaksone lok, en sy lewe begin verander. Daar is karmoeilikheid, hulle word gedwing om ‘n road trip saam te voltooi, en die vonk van jong liefde vat vlam.
Later ontmoet hy haar ouers en haar eks-kêrel, en na bietjie lakseermiddel en familiewrywing verander die fliek skielik in ‘n misdaadriller. Daarna slaan dit oor na melodrama met baie toevallighede.
Die draaiboek self maak ernstige tonale spronge van bedryf tot bedryf, en voel of dit soms van sekere storielyne vergeet – in die tweede helfte van die fliek bly Jay se comic-loopbaan grootliks vergete, en kykers vind nooit presies uit hoe die misdadigers by die hoofkarakters betrokke geraak het nie. Maar miskien was dit ook bloot ‘n uit-die-boks kreatiewe besluit om die gehoor nie te lepelvoer met agtergronddetail nie.
Behalwe vir die oorkoepelende storielyn, voel Eintlik Nogal Baie ook asof die vloei van toneel tot toneel wankelrig is. Dit voel soos (en is wel) ‘n regisseur se eerste vollengte rolprent, en dit kom voor of die oorgang na langer materiaal te skielik gekom het, of die redigeringproses te kort was om die fliek se ritme en pas te kon vervolmaak. Op ‘n tegniese vlak het die fliek ook ‘n paar probleme: donker of hoë-kontras tonele lyk byvoorbeeld soms hard, en die klank is nie konstant op ‘n ewe hoë standaard nie. Aan die ander kant is die fliek se oorspronklike musiek emosioneel ontlokkend, lewendig, en gepas dinamies.
Eintlik Nogal Baie se redding lê definitief in die brawe, buite-die-boks storielyn (wat waarskynlik belemmer word deur die feit dat die rolprent bemark is as ‘n romantiese komedie) al kon dit meer verfyn gewees het om drastiese tonale draaie te verminder. Ek glo dat sulke stories wat tradisionele formules vermy ‘n baie goeie wending is in die Suid-Afrikaanse rolprentlandskap wat onlangs verpletter was met dieselfde liefdesverhaal wat oor-en-oor vertel word. Maar ek voel ook dat die praktiese, tegniese aanmekaarslaan van die eindproduk beter kon wees – miskien was daar bietjie meer skaafwerk nodig.
Eintlik Nogal Baie is ‘n nuwe Afrikaanse romantiese drama deur regisseur Jacques Brand. Die fliek begin 4 November 2016 in rolprentteaters draai.
Ek het nounet die fliek gekyk en ek moet sê ek en my ouers het dit BAIE geniet. My pa het gehuil op die einde, en hy is ‘n man wat glad nei emotioneel raak nie. Ek was vir die eerste keer in ‘n lang tyd nie verveeld in ‘n afrikaanse film nie.