Kyk, die feit dat daar ‘n amptelike Jack Parow biografie* verskyn het, is nie ‘n verrassing nie. Dit is dalk ‘n effense vreemde besluit, maar nadat Parow se platemaatskappy, Parowphernalia, al tekkies, ekstra-lang pette, comic books, en chilli- en braaisous begin verkoop het, kan niks mos meer verras nie. En al bevat Die Ou Met Die Snor By Die Bar nou geen staatsgeheime nie, is dit wel ‘n interessante kykie na die man agter die snor, en hoe hy sy sukses behaal het – al die pad uit Bellville uit.
*Kan mens dit ‘n outobiografie noem as daar ‘n ander outeur betrokke is? Tog is dit ‘n amptelike Parow-goedgekeurde produk wat van Parow se stem en ‘n eerstepersoonverteller gebruik maak.
Hoewel die stories in die boek deur Parow (oftewel Zander Tyler) aan Theunis Engelbrecht oorvertel is, en deur Engelbrecht geskryf is, word daar ‘n punt daarvan gemaak om alles in Parow se stem te hou. Daar is dus baie vloekwoorde en gemengde taal, maar dit verleen ook ‘n geloofwaardigheid aan die materiaal.
Die boek is vol lekkerlees stories wat lekkerluister verhale sou wees as jy vir Parow by ‘n kroeg raakgeloop het. Dit loop oor van sy tegemoedkomende, oop en vriendelike persoonlikheid. En ja, daar’s skandes ook. Daai stories is meestal oor aande waar Tyler ‘n les geleer het oor drank, dwelms, te min slaap, en/of te veel partytjie hou.
Die geselserige, gedagtestroom-formaat van die boek maak dat dit baie maklik lees, ten spyte daarvan dat daardie gemak soms bietjie gekniehalter word deur gemengde tale. Hier volg die eerste paragraaf van hoofstuk 14, om die soms té gemaklike aanslag te illustreer:
“Okei, waar was ons laas? Laat ek eers dink. O ja, ons was in 2009 en 2010 voor ek sommer na 2014 toe gespring het, so ek gaan nou eers ‘n bietjie terug rewind. Sorry.”
Tóg werk dit. Die boek is amper soos ‘n versameling gesprekke. Maar informele, gemaklike, eerlike gesprekke tussen vriende. En só word jy (lees-lees en speel-speel) Parow se pel.
Die Ou Met Die Snor By Die Bar is vol vermaaklike stories en interessante karakters, en dek alles van Parow se skooljare, sy nie-te-vriendelike verhouding met Steve Hofmeyr, die Oppikoppi-optrede wat deur Captain Morgan gered is, daai keer met die strippers in Firkin, al die mense wat hom al wou bliksem, die keer toe hy sy held Snoop Dogg “ontmoet” het, tot die geboorte van sy dogter. Dit wys Parow se aangename kant, so bietjie van sy donker kant, maar ontbloot eintlik sy menslike kant – deur die boek leer jy die Zander Tyler agter die snor ken.
Jack Parow is die “original donker dodgy Afrikaans rapper” van Bellville in die Weskaap. Hy het onlangs die James Bong-agtige Army of One opgeneem saam met Freshlyground as deel van Sony XPeria se Mashlabs op 5FM. Die snit is beskikbaar op iTunes, en Die Ou Met Die Snor By Die Bar by takealot.com (of enige goeie boekwinkel).
Theunis Engelbrecht is ‘n gesoute joernalis, digter, en outeur, en was ook lid van die orkes Die Naaimasjiene.