Die Ontwaking speel kat-en-muis met ou bekende idees

Die Ontwaking

Die Ontwaking is ‘n sielkundige misdaadriller, gegrond op Chris Karsten se roman Abel se Ontwaking (die eerste boek in ‘n trilogie). Dit gaan oor Ella Nesser (vertolk deur Juanita de Villiers), ‘n jong en relatief onervare speurder wat op die spoor is van die “Nagsluiper” – ‘n reeksmoordenaar. Terselfdetyd leer ons ook Abel Lotz (Gys de Villiers) ken. Bedags is hy ‘n ongemaklike, eienaardige  eienaar van ‘n klein galery en kenner van Afrika-maskers en Kuns. Na-uurs sluip hy in die nag.

Die Ontwaking - Gys de Villiers
Gys de Villiers as Abel Lotz in Die Ontwaking

Die Ontwaking voel soos ‘n kombinasie van Silence of the LambsPsychoDexter, en Nightcrawler, met bietjie The Girl with the Dragon Tattoo bo-oor gestrooi. Dit voel dikwels of die film twee protagoniste het – Adjudant Nesser is ‘n goeie speurder met ‘n natuurlike aanvoeling vir haar werk. Maar as kykers volg ons ook Abel se storie, sonder om regtig aangemoedig te word om simpatiek te voel teenoor hom. Dele van die film skep ‘n ongemaklike en rillende atmosfeer, en ander dele voel bietjie oordryf, oorbekend, of sit bloot die pot mis. Selfs Gys de Villiers se toneelspel en karakterisering is meestal genotlik om voor te kyk, maar voel soms soos ‘n ooreenvoudige karikatuur.

Miskien het ek net al te veel keer Psycho en Silence of the Lambs gesien, maar baie van die tonele en storiewendings het bekend gevoel. Of miskien is dit nou tyd dat daar ‘n ander reeksmoordenaar as Ed Gein gebruik word as basis vir die rolprentpsigopaat. Die fliek se grootste probleem is dat daar soms goeie geleentheid was vir verrassings of wendings, maar dat gebeure dan in die verkeerde volgorde afspeel om te skok.

Die Ontwaking plakkaat

Die film beloof iets nuuts vir Afrikaanse film, en die lokprent insinueer dat ons die mens agter die psigopaat gaan leer ken. Maar hoewel sekere eienskappe van die fliek uniek is vir ‘n Afrikaanse fliek, bestaan dit meestal uit bekende misdaadriller-clichés. In plaas van ‘n deeglike karakterstudie is Abel Lotz ‘n vae afdruk van ‘n afgesaagte argetipe. Darem is dit oor die algemeen ‘n verteerbare fliek, en iets anders as die deursnit Afrikaanse romantiese komedie, maar dis geensins ‘n baanbreker of ‘n uitermate sukses nie. Die fliek het definitief positiewe aspekte deurgaans, en die storie bly interessant. Veral sekere karakters (soos Paul Eilers as Silas Sauls) maak die fliek ‘n kyk werd. Ek sien verseker uit daarna om die oorspronklike roman te lees, en Die Ontwaking lê ook die grondslag neer vir rolprentverwerkings van Karsten se twee opvolgboeke: Abel se lot en Die Afreis van Abel Lotz.


Die Ontwaking het Vrydag 26 Februarie in teaters begin wys. Dit is laasjaar aangewys as Beste Vollengte Rolprent by die eerste Indie Karoo Film Festival.